phillipkotze.co.za
Open in
urlscan Pro
41.78.28.164
Public Scan
URL:
https://phillipkotze.co.za/
Submission: On October 11 via api from US — Scanned from CA
Submission: On October 11 via api from US — Scanned from CA
Form analysis
0 forms found in the DOMText Content
* Tuisblad * Kontak my hier PHILLIP KOTZE Phillip Kotze is op 2 November 1958 in die Oos Kaapse dorpie, Adelaide, gebore. Hy het reeds op 4 jarige ouderdom begin klavier speel, en neem van 6 jarige ouderdom formeel klavier onderrig. Sy ouers verhuis later na Bloemfontein, waar Phillip aan Grey Kollege by die legendariese Oom Sheppie (Mr. Shepstone) in klavier onderrig word. In dié tyd word Phillip aangewys as die klavier leerling wat die beste presteer in sy praktiese eksamens asook musiek teorie. Dit is eers heelwat later, toe hy in standerd 9 (nou Graad 11) was, wat hy begin sang onderrig ontvang, en was so bevoorreg om deur die bekende sang tutor, Lloyd Straus-Smith, opgelei te word. Hy word in hierdie tyd aanvaar om as deeltydse student daagliks onderrig aan die South African College of Music te ontvang - die eerste skolier ooit wie die voorreg te beurt val. Hy tree ook dan in dié tyd in semi-professionele teater produksies soos, "Trial by promissary note" op. Hy het gematrikuleer aan die D.F. Malan Hoërskool in Kaapstad. Hoewel hy toe reeds 'n sangloopbaan in die oog gehad het, gaan studeer Phillip Grafiese Kuns, as 'n "veiligheidsnet", aan die Technikon Vrystaat, (Nou bekend as die Sentrale Universiteit van Tegnologie). Hy word ook aangewys as die eerste Studenteraad Voorsitter van hierdie instansie. Hier, in Bloemfontein, word hy onderrig deur die internasionaal bekende bariton, Hans van Heerden. Hy vertolk as 20 jarige ook sy eerste professionele rol hier in die Bloemfontein stadskouburg, in die musiek blyspel "The Student Prince". Phillip vertrek in 1980 na Wenen, Oostenryk, waar hy onderrig word deur Professor Marija Sklad-Sauer, 'n Tjeggiese Sopraan, wat in Wenen woon. Hy word in hierdie tyd genooi om op eie bodem rolle te vertolk vir NARUK in die Alahambra teater, in Durban, asook vir SUKOVS in Bloemfontein. Phillip het beplan om terug te keer na Wenen, maar talle geleenthede doen hulle voor vir hom hier in Suid Afrika, en hy besluit om te bly. Phillip deel in dié tyd die verhoog met Gé Korsten, en word voortspruitend hieruit, 'n platekontrak by Decibel, Boet Pretorius se opname studio, aangebied. Hy verskyn reeds saam met die bekendes van daardie tyd, Rina Hugo, Manuel Escorcio, Carike Keuzenkamp en talle ander op verskeie saamgestelde langspeelplate, voordat sy eerste solo langspeler, "En ek verlang" in 1984 verskyn. Phillip sing ook aanvanklik as duetmaat van Anneli van Rooyen op twee langspelers, en die lied, "Liefde, wyd soos die see" bereik die top van die Afrikaanse treffersparade daardie jaar. Hy verskyn in verskeie TV musiekprogramme, wat insluit, "Net voor nagsê", "Kom kuier saam..." en "Musiek is ons lewensvuur". Hy begin ook 'n konserteeks, "Musiek en liriek" in die Sand du Plessis teater van Bloemfontein aanbied. Hier kry opkomende sangers die geleentheid om die verhoog met bekendes te deel. Twee dames wat Phillip raak luister, en later gepresteer het, was Karen Meiring, gewese bestuurshoof van KykNet, en Saranti Rheeder, wat later in "Liriekeraai" vir haar naam gemaak het. Sedert 1983 vertolk Phillip solo rolle in verskeie operahuise in Suid Afrika. "La Traviata, The Great Waltz, Il Paggliaco" en "Fiddler on the roof" tel onder van sy gunstelinge. Phillip ontmoet in 1985 vir Ella, met wie hy in 1987 trou, en hulle maak onmiddelik groot naam as duetpaar. Dit is die Brigadiers maatskappy wat hulle kontrakteer, en twee CD's van hulle, "Saam" asook "Liefde" verskyn kort daarna in die mark. Tussen 1987 en 1994 toer die paar voltyds met optredes dwarsdeur Suid Afrika, asook Namibië, en doen sowat 90 konserte per jaar. Vir Phillip was een van die hoogtepunte van sy loopbaan, toe hy in 1988 die kans gekry het om saam met die bekende dirigent Gerry Bosman te werk in die "Symphonic Pop" konsertreeks, wat al die groter teaters besoek het. Dit is juis op toer in Namibië wat hy die kans kry om gereeld orrel te speel vir eredienste, wanneer Phillip en Ella, as deel van hulle optrede, genooi word om die sang te lei in verskeie gemeentes. Hulle liefde vir lofprysing en aanbidding deur middel van musiek, gee aanleiding tot die duetpaar se eerste Geestelike album, "Together". Phillip komponeer self verskeie van die liedere hierop, en sy "Maria, nooi van Nasaret" word baie gewild. Ook op hierdie album, is Johan Heysteck se "Ken jy die Heilige Gees" wat hy spesifiek vir Phillip en Ella geskryf het. Dié lied is in Flam se musiekbundel opgeneem. Na hulle eersteling se geboorte in 1994 begin Phillip sy eie sangskool, en begin hy voltyds vir Radio Oranje (later OFM) uitsaai, 'n pos wat hy vir 22 jaar beklee. As aanbieder van dié streekradio se Gospel program, word hy gevra om al die daaglikse oordenkings te skryf en op te neem. Phillip neem vir 18 jaar verantwoordelikheid daarvoor, en Lux Verbi kontrakteer hom voortspruitend om 'n Bybelse dagboek vir egpare, "Duet van die lewe" te skryf en saam te stel. Die boek was 'n blitsverkoper, en ook Carpe Diem nooi hom om saam te skryf aan verskeie saamgestelde boeke, soos "Die pad wat ek moes loop". Phillip skryf in daardie tyd op 'n gereelde basis artikels vir die Finesse vroue tydskrif, en kry weekliks 'n eie kolom in die Vrystaat se streek koerant "Die Volksblad". OFM gebruik dié geleentheid om, op aanvraag, Phillip se oordenkings op CD op te neem en verkoop, en drie CD's met die naam, "Raak stil, met Phillip Kotze" word vrygestel. Phillip raak nou betrokke by opheffing, werkskepping en gemeenskapswerk, en fokus veral op die Heidedal kleurling gemeenskap, waar dwelm afhanklikheid 'n groot krisis was. Hy word ook dan in 2010 deur die Heidedal gemeenskap aangewys as Heidedal se "Vriend van die jaar." Sy nominasie vir die Bloemfonteiner van die jaar kompetisie, wat deur Die Volksblad geloods is, vloei ook regstreeks hieruit. Met dié dat hy meer gereeld tuis is, raak Phillip ernstig betrokke by sy gemeente, NG Pellisier, se musiekleiding, en hy word later aangestel as dié gemeente se Musiek Direkteur. Die gemeente neem die voortou in die Vrystaat om kontemporêre Geestelike musiek deel van eredienste te maak. Hy bied op uitnodiging talle Lofprysing werkwinkels oor die lengte en breedte van die land aan, en pleit veral vir kohesie tussen die meer tradisionele orrel begeleiding, en die meer kontemporêre orkes begeleiding. Phillip is in 1997 die stigterslid van die baie gewilde "Ons eie drie Tenore", wat uit Gé Korsten, Manuel Escorcio en Phillip self bestaan. Met Gé Korsten se tragiese dood verlaat Manuel Escorcio die groep, en sy en Gé se plekke word ingeneem deur onderskeidelik, Jannie Moolman en Chris Coetzer. Met Jannie Moolman se vertrek in 2004 kry een van Phillip se ster leerlinge, Du Preez Stoltz, die geleentheid om by hulle aan te sluit. Die konsep het in totaal 17 jaar bestaan, en word in 2014 deur Phillip ontbind. Phillip se sangskool het intussen geweldig gegroei, en takke is in Upington, Kuruman, Kimberley, Kroonstad asook Betlehem gestig. Hy het al die afrigters persoonlik opgelei, en Bloemfontein alleen, het 4 voltydse stem afigters gehad. Phillip ontvang talle nominasies en toekennings. Sy aanwysing as "Afrikoon" deur die ATKV, vir kultuur bydrae, werkskepping en gemeenskap betrokkendheid, asook die Danie Theron borsbeeld vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek, wat hy van die FAK ontvang, is die twee waarop hy die trotste is. Met sy aankoms in Pretoria het GROOT FM hom 'n omroeperspos aangebied, en hy het einde 2021 daarmee klaar gemaak. Phillip is deesdae beoordelaar van KykNet se "Sing in Harmonie" kore kompetisie, en word gereeld as beoordelaar van Kunswedstryde in Pretoria gebruik. Hy beoordeel ook tans Via se "Kollig" sangkompetisie. Ivory Manor Boetiek Hotel en gastehuis het Phillip aangestel as hulle kunstenaar van keuse, en hy is deesdae verantwoordelik vir alle formele produksies daar. Hy gee tans sang opleiding vanuit die kapel van die NG Elarduspark gemeente, waar hy ook sedert 2014 deel van die musiekspan is. © 2024 phillipkotze.co.za Design Jaco Engelbrecht 0636700675 GET SOCIAL