phillipkotze.co.za Open in urlscan Pro
41.78.28.164  Public Scan

URL: https://phillipkotze.co.za/
Submission: On October 05 via api from US — Scanned from CA

Form analysis 0 forms found in the DOM

Text Content

 * Tuisblad
 * Kontak my hier





PHILLIP KOTZE







Phillip Kotze is op 2 November 1958 in die Oos Kaapse dorpie, Adelaide, gebore.
Hy het reeds op 4 jarige ouderdom begin klavier speel, en neem van 6 jarige
ouderdom formeel klavier onderrig.
Sy ouers verhuis later na Bloemfontein, waar Phillip aan Grey Kollege by die
legendariese Oom Sheppie (Mr. Shepstone) in klavier onderrig word. In dié tyd
word Phillip aangewys as die klavier leerling wat die beste presteer in sy
praktiese eksamens asook musiek teorie.
Dit is eers heelwat later, toe hy in standerd 9 (nou Graad 11) was, wat hy begin
sang onderrig ontvang, en was so bevoorreg om deur die bekende sang tutor, Lloyd
Straus-Smith, opgelei te word. Hy word in hierdie tyd aanvaar om as deeltydse
student daagliks onderrig aan die South African College of Music te ontvang -
die eerste skolier ooit wie die voorreg te beurt val. Hy tree ook dan in dié tyd
in semi-professionele teater produksies soos, "Trial by promissary note" op. Hy
het gematrikuleer aan die D.F. Malan Hoërskool in Kaapstad.
Hoewel hy toe reeds 'n sangloopbaan in die oog gehad het, gaan studeer Phillip
Grafiese Kuns, as 'n "veiligheidsnet", aan die Technikon Vrystaat, (Nou bekend
as die Sentrale Universiteit van Tegnologie). Hy word ook aangewys as die eerste
Studenteraad Voorsitter van hierdie instansie. Hier, in Bloemfontein, word hy
onderrig deur die internasionaal bekende bariton, Hans van Heerden. Hy vertolk
as 20 jarige ook sy eerste professionele rol hier in die Bloemfontein
stadskouburg, in die musiek blyspel "The Student Prince".

 

Phillip vertrek in 1980 na Wenen, Oostenryk, waar hy onderrig word deur
Professor Marija Sklad-Sauer, 'n Tjeggiese Sopraan, wat in Wenen woon. Hy word
in hierdie tyd genooi om op eie bodem rolle te vertolk vir NARUK in die
Alahambra teater, in Durban, asook vir SUKOVS in Bloemfontein. Phillip het
beplan om terug te keer na Wenen, maar talle geleenthede doen hulle voor vir hom
hier in Suid Afrika, en hy besluit om te bly.


Phillip deel in dié tyd die verhoog met Gé Korsten, en word voortspruitend
hieruit, 'n platekontrak by Decibel, Boet Pretorius se opname studio, aangebied.
Hy verskyn reeds saam met die bekendes van daardie tyd, Rina Hugo, Manuel
Escorcio, Carike Keuzenkamp en talle ander op verskeie saamgestelde
langspeelplate, voordat sy eerste solo langspeler, "En ek verlang" in 1984
verskyn. Phillip sing ook aanvanklik as duetmaat van Anneli van Rooyen op twee
langspelers, en die lied, "Liefde, wyd soos die see" bereik die top van die
Afrikaanse treffersparade daardie jaar.


Hy verskyn in verskeie TV musiekprogramme, wat insluit, "Net voor nagsê", "Kom
kuier saam..." en "Musiek is ons lewensvuur". Hy begin ook 'n konserteeks,
"Musiek en liriek" in die Sand du Plessis teater van Bloemfontein aanbied. Hier
kry opkomende sangers die geleentheid om die verhoog met bekendes te deel. Twee
dames wat Phillip raak luister, en later gepresteer het, was Karen Meiring,
gewese bestuurshoof van KykNet, en Saranti Rheeder, wat later in "Liriekeraai"
vir haar naam gemaak het.
Sedert 1983 vertolk Phillip solo rolle in verskeie operahuise in Suid Afrika.
"La Traviata, The Great Waltz, Il Paggliaco" en "Fiddler on the roof" tel onder
van sy gunstelinge.


Phillip ontmoet in 1985 vir Ella, met wie hy in 1987 trou, en hulle maak
onmiddelik groot naam as duetpaar. Dit is die Brigadiers maatskappy wat hulle
kontrakteer, en twee CD's van hulle, "Saam" asook "Liefde" verskyn kort daarna
in die mark. Tussen 1987 en 1994 toer die paar voltyds met optredes dwarsdeur
Suid Afrika, asook Namibië, en doen sowat 90 konserte per jaar. Vir Phillip was
een van die hoogtepunte van sy loopbaan, toe hy in 1988 die kans gekry het om
saam met die bekende dirigent Gerry Bosman te werk in die "Symphonic Pop"
konsertreeks, wat al die groter teaters besoek het.


Dit is juis op toer in Namibië wat hy die kans kry om gereeld orrel te speel vir
eredienste, wanneer Phillip en Ella, as deel van hulle optrede, genooi word om
die sang te lei in verskeie gemeentes. Hulle liefde vir lofprysing en aanbidding
deur middel van musiek, gee aanleiding tot die duetpaar se eerste Geestelike
album, "Together". Phillip komponeer self verskeie van die liedere hierop, en sy
"Maria, nooi van Nasaret" word baie gewild. Ook op hierdie album, is Johan
Heysteck se "Ken jy die Heilige Gees" wat hy spesifiek vir Phillip en Ella
geskryf het. Dié lied is in Flam se musiekbundel opgeneem.


Na hulle eersteling se geboorte in 1994 begin Phillip sy eie sangskool, en begin
hy voltyds vir Radio Oranje (later OFM) uitsaai, 'n pos wat hy vir 22 jaar
beklee. As aanbieder van dié streekradio se Gospel program, word hy gevra om al
die daaglikse oordenkings te skryf en op te neem. Phillip neem vir 18 jaar
verantwoordelikheid daarvoor, en Lux Verbi kontrakteer hom voortspruitend om 'n
Bybelse dagboek vir egpare, "Duet van die lewe" te skryf en saam te stel. Die
boek was 'n blitsverkoper, en ook Carpe Diem nooi hom om saam te skryf aan
verskeie saamgestelde boeke, soos "Die pad wat ek moes loop".

 

Phillip skryf in daardie tyd op 'n gereelde basis artikels vir die Finesse vroue
tydskrif, en kry weekliks 'n eie kolom in die Vrystaat se streek koerant "Die
Volksblad".
OFM gebruik dié geleentheid om, op aanvraag, Phillip se oordenkings op CD op te
neem en verkoop, en drie CD's met die naam, "Raak stil, met Phillip Kotze" word
vrygestel. Phillip raak nou betrokke by opheffing, werkskepping en
gemeenskapswerk, en fokus veral op die Heidedal kleurling gemeenskap, waar dwelm
afhanklikheid 'n groot krisis was. Hy word ook dan in 2010 deur die Heidedal
gemeenskap aangewys as Heidedal se "Vriend van die jaar." Sy nominasie vir die
Bloemfonteiner van die jaar kompetisie, wat deur Die Volksblad geloods is, vloei
ook regstreeks hieruit.


Met dié dat hy meer gereeld tuis is, raak Phillip ernstig betrokke by sy
gemeente, NG Pellisier, se musiekleiding, en hy word later aangestel as dié
gemeente se Musiek Direkteur. Die gemeente neem die voortou in die Vrystaat om
kontemporêre Geestelike musiek deel van eredienste te maak. Hy bied op
uitnodiging talle Lofprysing werkwinkels oor die lengte en breedte van die land
aan, en pleit veral vir kohesie tussen die meer tradisionele orrel begeleiding,
en die meer kontemporêre orkes begeleiding.


Phillip is in 1997 die stigterslid van die baie gewilde "Ons eie drie Tenore",
wat uit Gé Korsten, Manuel Escorcio en Phillip self bestaan. Met Gé Korsten se
tragiese dood verlaat Manuel Escorcio die groep, en sy en Gé se plekke word
ingeneem deur onderskeidelik, Jannie Moolman en Chris Coetzer. Met Jannie
Moolman se vertrek in 2004 kry een van Phillip se ster leerlinge, Du Preez
Stoltz, die geleentheid om by hulle aan te sluit. Die konsep het in totaal 17
jaar bestaan, en word in 2014 deur Phillip ontbind.
Phillip se sangskool het intussen geweldig gegroei, en takke is in Upington,
Kuruman, Kimberley, Kroonstad asook Betlehem gestig. Hy het al die afrigters
persoonlik opgelei, en Bloemfontein alleen, het 4 voltydse stem afigters gehad.


Phillip ontvang talle nominasies en toekennings. Sy aanwysing as "Afrikoon" deur
die ATKV, vir kultuur bydrae, werkskepping en gemeenskap betrokkendheid, asook
die Danie Theron borsbeeld vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek, wat hy van die
FAK ontvang, is die twee waarop hy die trotste is.


Met sy aankoms in Pretoria het GROOT FM hom 'n omroeperspos aangebied, en hy het
einde 2021 daarmee klaar gemaak. Phillip is deesdae beoordelaar van KykNet se
"Sing in Harmonie" kore kompetisie, en word gereeld as beoordelaar van
Kunswedstryde in Pretoria gebruik. Hy beoordeel ook tans Via se "Kollig"
sangkompetisie. Ivory Manor Boetiek Hotel en gastehuis het Phillip aangestel as
hulle kunstenaar van keuse, en hy is deesdae verantwoordelik vir alle formele
produksies daar.
Hy gee tans sang opleiding vanuit die kapel van die NG Elarduspark gemeente,
waar hy ook sedert 2014 deel van die musiekspan is.




© 2024 phillipkotze.co.za   Design Jaco  Engelbrecht 0636700675


GET SOCIAL